Duitsland, veral die meer suidelike state van die land, is bekend vir die vyfde – en vrolikste – seisoen van die jaar! Hierdie feestyd, wat reeds vanaf die 1200’s bestaan, is een van die groot hoogtepunte van die Duitse kalender.
Hierdie feestyd is bekend onder ‘n verskeidenheid name in verskillende areas in Duitsland en aangrensende lande. Die spesifieke tradisies en wyses waarop die feestyd geniet word varieer ook in die verskillende areas. Tydens my navorsing oor hierdie feestyd het ek soms effens oorweldig gevoel met die teenstrydighede van inligting, en ek gaan dus in my beskrywing hoofsaaklik fokus op die tradisies wat geld in Baden-Würrtemberg, waar ek woonagtig is. Die tradisies wat in die suide van Duitsland en in Switserland geld, staan algemeen bekend as Swabies-Alemaniese feeste.
Gedurende die feestyd verval tipiese formaliteite en reëls. Mense mag meer laf wees, mag mekaar meer terg (daar is selfs sekere tradisies wat dit aktief doen), mag meer informeel optree teenoor mense in beheer-posisies, ens.
Volgens die feestyd se gebruik is almal dieselfde. Dit verwys terug na die middeleeue waartydens sosiale stande baie eksplisiet en gereguleerd was (edelman en werkers-klas) en waar hierdie stande gedurende die feestyd tydelik verval het.
Benamings En Gepaardgaande Areas
Die benamings wat gebruik word in verskillende areas is van verskillende oorsprong-woorde afgelei. Elke benaming het sommige gedeelde en sommige unieke tradisies wat daaraan gekoppel word. Hier onder volg van die bekendste benamings vir hierdie feestyd en die gepaardgaande gebiede waar dit gebruik word:
- Swabies-Alemaniese feeste
- Fasching: Oostenryk (sentraal, oostelik); Bavaria (München, Würzburg); Berlin, Brandenburg
- Fasnacht: Oostenryk (westelik); Baden-Würrtemberg (westelik, sentraal); Switzerland; Luxemburg.
- Fasnet: Swabia gebied (suid-westelike Bavaria & suid-oostelike Baden-Würrtemberg)
- Fosnat: Franken gebied (noordelike Bavaria)
- Karnaval feeste
- Karneval: Rheinland (Aachen, Bonn, Cologne (Köln), Düsseldorf); Frankryk
Die woord Fasching (en sommige soortgelyke name) dateer terug na die 13de eeu. Dis afgelei van die Germaanse woorde vaschanc of vaschang (in moderne Duits Fastenschank), verwysend na die laaste bediening van alkoholiese drankies voor Vastyd.
Die woord Fastnacht / Fasnacht lyk baie dieselfde as Fasching, maar het in werklikheid ‘n heeltemal ander oorsprong. Dit is afkomstig van die ou Duitse woord fasen (“om laf, dwaas, wild op te tree”). So die woord Fasnacht verwys na ‘n aand van wilde, lawwe gedrag.
Die oorsprong van die woord Karneval is heelwat nuwer as die ander benamings. Dit dateer terug na die 17de eeu en is vermoedelik ‘n samesmelting van Franse, Italiaanse en Latynse woorde: carne – “vleis” (Italiaans) en levare – “weg met” (Latyn). Dus vorm dit die saamgestelde woord carnelevare of Karneval wat beteken “weg met vleis”, verwysend na die Vastyd.
Die Carnevale in middeleeuse Italië is een van die eerste gedokumenteerde karnaval-vieringe in die wêreld. Sommige steeds gewilde tradisies, soos karnaval-optogte, maskers en maskerballe, is van daar afkomstig. Mettertyd het van hierdie tradisies meer noord versprei na o.a. Frankryk en die Duitse staat Rheinland, sowel as na Noord-Amerika (Mardi Gras) deur middel van kolonialisasie.
Alhoewel die benamings se oorsprong so geheel en al verskil, lei dit tot dieselfde gevolg: ‘n feestyd van pret, musiek, optogte en ander lawwighede wat voor die Vastydperk plaasvind.
Oorsprong Van Die Feestyd
Fasching / Fasnacht / Fasnet word meerendeels gekoppel aan die 40-dae Vastydperk voor Paasfees wat deur Christelike gelowiges gevier word. Hierdie Vastyd verwys terug na die 40 dae wat Jesus in die wildernis deurgebring het, waartydens Hy honger gely het en deur Satan verlei was.
In vroeër tye was hierdie 40-dae Vastyd baie streng toegepas deur gelowiges. Mense het geen alkohol ingeneem nie, sowel as geen vleis, melkprodukte of eiers nie. Hierdie tydperk was egter nie net ‘n tyd van onthouding van lekkernye nie, maar ook ‘n tyd van introspeksie en bekering. Vir gelowiges, was Fasnacht dus ‘n feestyd voordat hulle die 40-dae Vastyd sou ingaan, waartydens hulle vir oulaas lekkernye kon geniet en pret kon hê.
Voordat die Christelike geloof dominant geword het in die areas, was daar egter feeste gedurende dieselfde algemene tyd van die jaar. Hierdie Karneval-vieringe simboliseer die einde van winter, koue en donkerte. Die maskers wat gedra word het die doel gehad om die slegte geeste skrik te maak en weg te jaag.
Na die Franse Revolusie, is daar nog ‘n aspek bygevoeg by die Karneval-vieringe. In protes teenoor die Franse onderdrukking in die Rheinland-distrik in Duitsland, het deelnemers gedurende Karneval-optogte hul oorheersers gespot en beledig, veilig versteek agter hulle maskers. Hierdie tradisie is steeds vandag sigbaar in hierdie areas, waar karikature van politici en ander belangrike figure deel vorm van vlotte in die optogte.
Belangrike Datums En Gebeure Tydens Die Fees
In meeste areas begin die feestyd amptelik op 11 November om 11:11 die oggend. Hierdie presiese datum en tyd is geen toeval nie. Dit het gespruit uit ‘n sterk teenstand teen Franse onderdrukking na die Franse Revolusie. Frankryk se oorheersing het die leuse: “Gelykheid, Vryheid, Broederskap” gehad. Die Duitsers het die eerste letter van elke woord (in Frans) geneem en dit saamgevoeg om die woord elf te vorm – wat in Duits verwys na die getal 11. Dit het gelei tot die spesifieke datum en tyd. Gedurende die middeleeue het die nommer 11 as die Narrenzahl (gekke-nommer) bekend gestaan.
Hierdie datum is egter in meeste gevalle meer ‘n formaliteit wat slegs deur die karnaval-organisasies en -gildes onderhou word (bv. hul eerste vergadering vir die seisoen vind dan plaas, ens.) Die rede daarvoor is dat einde November en die hele Desember-maand gewoonlik gewy word aan Kersfees en Advent vieringe, ‘n ander belangrike feestydperk in die Duitse kalender.
Gevolglik begin die Fasnacht / Karneval feestyd se aktiwiteite gewoonlik op 6 Januarie, bekend as “Three King’s Day” (Dreikönigstag) of “Epiphany”, en duur tot en met Aswoensdag. Aanvanklik word die feestyd slegs aangedui deur kleurvolle en gerafelde linne lappies wat oor strate gespan word. Daar is sommige aktiwiteite wat op hierdie datum deur die karnaval-organisasies uitgevoer word, maar die feestyd bereik eers sy hoogtepunt gedurende die laaste week of twee voor Aswoensdag (die eerste dag van die Vastyd).
Die Vastyd begin 46 dae voor Paasfees. Die 6 Sondae gedurende hierdie tydperk tel nie as dae waarop gevas moet word nie, en dus is daar ‘n totaal van 40 amptelike vasdae in die Vastydperk. Paasfees se datum (en dus ook Aswoensdag s’n) varieer, aangesien dit bepaal word deur die datum van die eerste volmaan nadat lente begin het.
Alhoewel die amptelike feestyd vanaf November / Januarie tot kort voor Paasfees duur, vind die oorgrote meerderheid van gebeure gedurende die week voor Aswoendag (Aschermittwoch) (die eerste dag van die Vastydperk) plaas. Elke dag van daardie week het ‘n spesiale naam in Duits, en het sekere gebeure wat daaraan gekoppel word.
Dag se Naam | Feesdag Beskrywing (Tolle Tage) |
Donnerstag (Donderdag) | · Fettdonnerstag/Schmotziger Donnerstag (Vet / Vetterige Donderdag)
· Schmutziger Donnerstag (variasie van vorige woord) · Unsinniger Donnerstag (Onsinnige Donderdag) · Weiberfastnacht/Altweiberfastnacht ([Ou] Vroue Fasching) |
Freitag (Vrydag) | · Rußiger Freitag (Roet Vrydag) |
Samstag (Saterdag) | · Nelkensamstag (Angelier Saterdag)
· Schmalziger Samstag (Vetterige Saterdag) |
Sonntag (Sondag) | · Tulpensonntag (Tulp Sondag) |
Montag (Maandag) | · Rosenmontag (Roos Maandag) |
Dienstag (Dinsdag) | · Fasnachtsdienstag (Bekering-Dinsdag)
· Mardi Gras (Vet Dinsdag) · Veilchendienstag (Viooltjie Dinsdag) |
Mittwoch (Woensdag) | · Aschermittwoch (As Woensdag)
– die eerste dag van die Vastydperk |
Sien meer details oor die algemene tradisies en gebeure van elke dag hier.
Swabies-Alemaniese Feeste
Die feeste in suidelike Duitsland en Switserland staan bekend as Swabies-Alemaniese feeste (Schwäbisch Alemannische Fastnacht), teenoor die Karneval -feeste in die meer noordelike Rheinland-distrik in Duitsland. Die belangrikste dag vir Karneval-feeste is Roos-Maandag, terwyl die groot Fasnacht-optogte gewoonlik op Tulp-Sondag plaasvind.
Die Swabies-Alemaniese feeste het heelparty unieke eienskappe. Gedurende hierdie feeste dra deelnemers gedetailleerde gekerfde houtmaskers. Die maskers het gewoonlik die vorms van duiwels, hekse, diere, narre of “wilde mense”. Soms is daar ook militêr-geïnspireerde uniforms as deel van die optogte.
Ek sal in Deel 3 en Deel 4 meer uitbrei oor die spesifieke tradisies van die Swabies-Alemaniese feeste.
Simboliese Betekenis Van Die Feestyd
Daar is verskillende teorieë oor waarom hierdie feestyd oorspronklik ontwikkel het.
Een teorie beweer dat die fees se ontwikkeling gekoppel kan word aan die Christelike geloof en die kerk se konsepte oor goed en sleg, of heiligheid en sondigheid. Hierdie groepering glo dat die konflik tussen die genot van Fasnacht en die onthouding gedurende die Vastyd op ‘n teologiese wyse geïnterpreteer kan word.
Volgens hulle kan Fasnacht gesien word as deel van die Satan se koningkryk (civitas diaboli) en Vastyd as deel van God se koningryk (civitas Dei). Dit kan dalk dan die oorsprong verduidelik van sommige Fasnacht-karakters soos duiwels en narre (wat beskou word as ‘n verpersoonliking van verganklikheid / menslikheid).
‘n Ander teorie is egter dat die feestyd se oorsprong niks te doen het met die Christelike geloof nie. Hierdie groepering glo dat die fees se ontwikkeling gekoppel kan word aan seisoenale veranderinge. Volgens hulle het mense ‘n fees gehou om die lente te verwelkom en om “slegte geeste” van die “koue en donkerte” weg te jaag. Die maskers was gedra om die slegte geeste bang te maak.
Volgens navorsing wat na die 1980’s gedoen is oor die ontstaan van Fasnacht, was Christelike geloofoortuigings en die bestaan van die kerk ‘n noodsaaklike aspek in die ontwikkeling van die fees. Fasnacht was ‘n geleentheid vir mense om op te staan teen onderdrukking en om leiers, sowel as die kerk, te kritiseer en teen te staan wanneer dit nodig was.
Ontwikkeling Van Swabies-Alemaniese Fasnacht Tradisies
Die feeste wat as die oorsprong van Fasnacht / Karneval beskou word, dateer terug na die laat 12de / vroeë 13de eeu. Die Swabies-Alemaniese Fasnacht en Rheinlandse Karneval het eers gedurende die vroeë 20ste eeu in onafhanklike feeste met unieke eienskappe ontwikkel.
Gedurende die “Verligting-era” in die 19de eeu, het mense die tradisies en uitrustings verbonde aan Fasnacht as “primitief en outyds” begin beskou, veral in die lig gesien van die ryke Barok-versierings wat algemeen was gedurende daardie tydvak. Uitrustings se ontwerpe het ‘n verfyning ondergaan. Die maskers wat vroeër van klei en papier gemaak was, was nou al hoe meer uit hout uitgekerf.
Die organisering van feeste het meer op die skouers van mense uit middelklas-groepe begin val, wat bogenoemde siening van “outydse” ontwerpe meer versterk het. Gevolglik het die viering van Fasnacht-styl feeste feitlik geheel en al doodgeloop, terwyl Karneval-styl feeste al hoe meer ‘n oplewing beleef het.
Fasnacht het egter ‘n hernuwingsfase beleef in suid-Duitsland gedurende die einde van die 19de / begin van die 20ste eeu. Mense het begin om die oorspronklike tradisies en gebruike van vroeëre Fasnacht-vieringe te herroep. Veral in plattelandse groepe het mense begin voel dat die Karneval-styl feeste beledigend was teenoor laer klasse. Mettertyd het daar ‘n bewustelike beweging plaas gevind weg vanaf Karneval-styl feeste, en terug na die ouer Fasnacht-styl feeste.
Die vestiging (of her-vestiging) van karnaval-organisasies / -gildes het plaasgevind. Die vestiging van gildes het so vinnig plaasgevind, dat daar in 1924 ‘n sambreel-organisasie (Vereinigung Schwäbisch-Alemannischer Narrenzünfte) gestig is om beheer te begin uitvoer oor die gildes. Die doel van die VSAN is om kommunikasie tussen gildes te vergemaklik, en om die suiwerheid van tradisies te onderhou.
Sedert die begin van die 20ste eeu is daar heelwat nuwe Fasnacht-karakters ontwerp (meesal as deel van die stigting van ‘n nuwe gilde). Normaalweg word die geskiedenis en bekende insidente van die plaaslike area, sowel as die nabygeleë gildes se karakters as inspirasie gebruik.
Die eerste hekse-gilde is in 1933 in Offenburg gestig, en was gebaseer op ‘n sprokiesverhaal en middeleeuse hekse. Die Fastnachtshexe het in die daaropvolgende jare ontwikkel tot ‘n gewilde karakter in die Swabies-Alemaniese Fasnacht-gildes. Ander gewilde karakters is diere, duiwels, “wilde mense” en narre.
Sien ‘n uitbreiding oor die verskillende karakters hier.
Alte Fasnacht
Die laaste Fasnacht-vieringe van elke jaar, bekend as Alte Fasnacht / Groppenfasnacht / Bauernfastnacht, vind plaas in ‘n paar Switserse dorpe. In hierdie dorpe word die Vastyd anders bereken as in die res van Duitsland / Switserland. Hulle ignoreer nie die 6 Sondae nie, en dus vind hulle feesviering ongeveer 3 – 3.5 weke voor Paasfees plaas (i.p.v 46 dae voor Paasfees).
Dit begin gewoonlik op Funkensonntag (Vonk Sondag), die Sondag na Aswoensdag en eindig presies om 4:00 die oggend van die daaropvolgende Donderdag. Gedurende die drie dae van die feestyd is daar ook kostuums, maskers en optogte – soortgelyk aan ander Fasnacht-vieringe.
In die volgende uitgawes van die reeks sal ek meer detail gee oor spesifieke tradisies en gebeure wat plaasvind gedurende hierdie feestyd.
Vrywaring: Die volgende beskrywing omvat slegs my ervaringe en die navorsing wat ek daarvolgens kon doen. Dit is gebaseer op die area en staat waar ek tans woon, en mag verskil van ander areas in Duitsland. Dit mag moontlik gedeeltelik foutief wees.
* * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * *
Verwysings:
- https://www.suedkurier.de/leben/brauchtum/fastnacht/schwaebisch-alemannische-fastnacht/Was-Sie-zur-schwaebisch-alemannischen-Fasnacht-unbedingt-wissen-muessen;art1365242,5866550
- https://www.veranstaltung-baden-wuerttemberg.de/fasnacht-bodensee-qqb3bd100062d
- https://www.bodensee.de/urlaubsmagazin/fasnacht
- https://www.stuttgartcitizen.com/lifestyle/street-parades-celebrations-mark-germanys-fifth-season-2-2/
- https://europe.stripes.com/community-news/everything-you-need-know-about-german-carnival
- https://www.thoughtco.com/fasching-in-germany-1444350
- https://www.german-way.com/history-and-culture/holidays-and-celebrations/fasching-and-karneval/
- https://germangirlinamerica.com/fasching-fasching-karneval-celebrated-germany/amp/
- https://germangirlinamerica.com/what-is-weiberfastnacht/
- https://en.m.wikipedia.org/wiki/Swabian-Alemannic_Fastnacht
- https://de.m.wikipedia.org/wiki/Schwäbisch-alemannische_Fastnacht
* * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * *